Soetes en Sop

Matewis's picture

Points: 5

Aan die begin van die jaar het ek en Carel datums uitgesit vir clubrides wat ons die jaar wil doen. Terselfdertyd het tannie Hestie en oom Johan my genader om te hoor of ek nie ‘n groep ryers wil deurbring vir ‘n naweek nie.

Na bietjie heen en weer het ons ‘n naweek gekry wat gepas is en die datum vasgemaak. Die Annual Sutherland Winter Ride is al welbekend en ons wou bietjie iets anders bied en ‘n ander plek gaan verken sonder om te bots met die Winter Ride.

So is Soetes en Sop gebore. Ons het in 2016 op ons Pelle-trip laasjaar na Die Hel toe by Soetkaroo die lekkerste Soetes gedrink. Die gedagte was dat ons bietjie van Tannie Suzie se Soetes saam met die sop nuttig. Ongelukkig is Tannie Suzie erg bekend en was hulle al uitverkoop. Ons het toe gesettle vir Muskadel en Jerepiko.

Soos dit maar gaan was die manne traag om te commit en wat dit dalk moeilik gemaak het was die feit dat ons al die Vrydag na 12:00 wou ry. ‘n Hele paar van die regulars het geboek en ek het ‘n slag vir Witvos afgestof en die backup bakkie afgestaan aan my ouers.

Donderdag-aand is die laaste goedjies afgegee en Witvos op die trailer gesit vir die rit die volgende dag Worcester toe. Gewoonlik draal die dag mos erg as mens so halfdag werk en uitsien na ‘n wegbreek. My halfdag het hopeloos te min ure gehad en 12:00 toe is ek oppad Worcester toe.

​Intussen het ek nuus gekry dat Chantelle se been nie lekker is nie en haar gesê sy moet sorg dat sy by die dokter kom. In Worcester het dinge gou gebeur want die trailer se ligte het nie gewerk nie. Miela en my pa het ingespring en begin toets en regmaak en ek het solank fiets afgelaai en begin pak.

Knap na 14:00 was trailer aansienlik meer reg as tydjie tevore en ek het opgekit en na die petrolstasie buite Worcester gery. Hier het die hele groep so drupsgewys aangekom. Een of 2 manne het vroeer gestop vir petrol en hulle ook later by ons aangesluit. Moet sê dit was lekker om vir ‘n verandering self op my fiets te wees en nie die backup bakkie te ry nie.

Met ‘n paar bekende gesigte deel van die groep en ‘n hele paar nuwes het ek sommer geweet dit gaan weer ‘n lekker naweek wees. Ons het almal koers gekies Abrahamskraal toe. Elkeen het sommer vining sy/haar plek in die groep gevind en ek soos gewoonlik heel agter waar ek lekker op my gemak is. Verkeer was effe besig maar ons het goed tyd gemaak tot by Touwsrivier.

Vinnige stop om gou die ysterperde met Cream Soda vol te maak en ons was weer op koers. Op Laingsburg het ons gou aankope gedoen en die manne het hulle laaste vloeibare versterkings aangekoop en ons het Laingsburg uitgery met die son wat besig was om te sak.

Hiervandaan is die ore maar gedraai om so gou as moontlik van die N1 af te kom. Dis ‘n stukkie pad wat ek nie ‘n voorliefde voor het nie. Op Prins Albert Weg het ons weer sous gegooi en ek het vooruit gery sodat ek bietjie op die brug kan staan en video neem soos die manne verbykom.

Die oorspronklike gedagte was eintlik om my kamera te gebruik, maar by nadere inspeksie het ek gesien my SD kaart is nog in my laptop.

Nou ja, paar videos later het ek die laaste stukkie plaas toe gery en sommer direk onder die afdak gaan stop. Mense was al aan’t groet toe ek daar aankom. Tannie Hestie en oom Johan het ons sommer dadelik laat tuisvoel en by aankoms het die vuur al geknetter. Tannie Hestie het die meer gemaksugtige mense hulle kamers gaan wys in die gastehuis en ons klomp hooligans het vir ons elkeen ‘n matras uitgesoek en sommer dadelik gemaklike klere aangetrek.

Ons het so bietjie rustig geraak en 'n soetetjie of 2 later het ons die lekkerste sop en varsgebakte plaasbrood ingevaar. Ek verneem daar het van die manne tot 7 snye deurgewerk. Lekker bly darem maar lekker. Ons het so bietjie die vuur gestook om die koue te verjaar en die bittereinders het na 12 in die bed gekom.

Saterdag oggend was ek soos gewoonlik douvoordag wakker en het dit goedgedink om sommer bietjie te gaan stap. Gepantser teen die koue het ek 'n 2-rigting radio in my sak gedruk en begin voetslaan veld in. Gelukkig ken ek die veld daarlangs goed en het opgestap tot aan die bo-punt van die kamp.

Het darem so 5km stappie ingekry vir die oggend. Terug by die gastehuis het die manne begin roer en almal het koffie gesoek.

Na lekker muesli, yoghurt, koffie en beskuuit het ons begin aantrek om so bietjie 'n sirkel-roete te ry wat ek op 'n kaart bespeur het. Oom Johan het ons gese dat ons Klaarstroom Hotel nie moet verbyry nie. En watter goeie advies was dit nie. Die paadjie  vanaf die plaas Seekoegat om was bitter mooi en lekker om te ry. Ek was eintlik verbaas om te sien dat daar plase in die omgewing is waarvan die werf eintlik massief is.

Ons het vinnig driver's briefing gehad en toe ritme gevang en die grondpad onder die wiele laat deurgly.

Klaarstroom is een van daai versteekte juweeltjies. Die hotel is pragtig en tipies platteland is die diens vriendelik en vinnig. Die restaurant gedeelte het die mooiste lang tafel en mens wil sommer dadelik net gaan sit en rustig raak.

Gou-kyk was daar 'n wa-vrag koffie vir die manne en manninne en aand ie reuk van 'n koffie of 2 kon ek agterkom dis "regte" koffie, of broffie soos dit meer algemeen in die spreektaal bekend staan.

Ek het besluit om vooruit te ry sodat ek by Kredouw Pas bietjie fotos kan neem soos die manne deur die draaie kom. Witvos het maar oop ketels gehardloop sodat ek genoeg tyd het om myself reg te posisioneer.

Ek het lekker rustig gaan sit en bietjie fotos geneem soos die manne verbykom. Die mannetjie op die laaste BMW het vir my suspisieus voorgekom. Asof hy met ‘n Honda houding sit. By nadere ondersoek sien ek toe Oupa E het bietjie met Prok se stofskoeter gery!

Ons het eers Bush pub toe gery vir middag-ete. Met die afklim en nader stap sien ons toe dat daar nie kaartfasiliteite is nie. Nie almal het kontant op hulle gehad nie en toe gaan vat ons Swartberg Hotel oor. LETTERLIK!

Daar was 3 disse op die kaarte, of nee wag, 4. Volstruis burger, beef burger, lamsburger, en kerrievis.

PROK het besluit Kerrievis is die regte ding. Ek was nogal lus vir ‘n stukkie Boorgat-seekat (lees Calamari) maar was toe die enigste een wat die lamsburger aangevat het.

Met ons maage vol het ons besluit om gou Swartberg te gaan ry tot bo. In ons groep was daar ‘n paar mense wat hom nog nie gery het nie. Ek, Prok en Ewie het die agterhoede gedek en Collen was net voor ons. Ek het op ‘n kol die opmerking teenoor Prok en Ewie gemaak dat dit vir my altyd lekker is om mense nuwe paaie te wys en dit saam met hulle te verken. Swartberg pass just leaves you in total awe. DIT IS SO MOOI.

Oppad boontoe kom ons ‘n jonglat en sy meisie tee by ‘n laagwaterbruggie. Hulle stop eers en gesels te lekker. Sy moes in die Kaap kom werk en hy het toe met die bike afgery en haar kom haal. Nou toer hulle weer terug en slaap waar die donker hulle vang. Hoe lekker kan dit nie wees nie!!Oppad het Collen ‘n ligte side-stand incident gehad en ek en Prok het gou gehelp om sy skoeter weer regop te kry. Bo aangekom het Callie gesê dat ‘n paar mense tot by Die Top gery het. Ek en Prok het toe gedraai en solank weer begin afry.

Onder by ‘n laagwaterbruggie het ons gestop sodat ons darem ‘n groepfoto kan neem.

Intussen het Prok so bietjie rondgeloop en fotos geneem. Ek het gesien dat sy oorpluisies uit sy sak val, dit opgetel en in my sak gedruk. Fotos is geneem en Stefania het ‘n ligte sidestand incident gehad. Tools uit en gearlever gou reguit buig was sy oppad. Toe begin Prok sy oorpluisies soek. Ek kon my lag nie hou nie en het omgedraai en op Witvos geklim en begin ry.

Terug in die dorp het ons gou die ysters vol cream soda gemaak en koers gekies Bush Pub toe. Hier het daar al ‘n koue vir my staan en wag danksy Callie en toe kon ons die voetbal ook kyk en sien hoe die Stormers die Bulls wen. Vertrektyd was 17:00 en so 16:50 het die mense al begin uitbeweeg.

Ek wou darem net die laaste gedeelte van die wedstryd kyk en het nog so bietjie gesit. Toe ek uitkyk was die span missing en ek moes toe seker maak die oorblywende lot haal die plaas. Soos dit ‘n goeie “sweeper” betaam. Dit blyk toe ek is gestrand met die stoutgatte van die groep. Ek het gesukkel, gedreig om te ry, mooi gepraat met die barlady, later tot die hulp van die plaaslike doktertjie wat besig is om haar Zuma-jaar te doen ingeroep maar niks het gehelp nie. Oupa E, Prok en Derick het bankvas gestaan. En elke keer as ek my rug draai staan daar ‘n vars brandewyn. Ek het maar boedel oorgegee en toe hulle gereed was om te ry sê ek: “Nog enetjie”. Hulle het omtrent gelag en na die enetjie het ons koers gekies plaas toe.

Met die wegtrek het Derick geskree ons stop elke 10km. 34km plaas toe. 3 stoppe.

Die eerste stop was mooi op 10km teen so koppie met die son wat besig is om onder te gaan. Derick het toe onthou sy seun het vir hom ‘n selfie-stick ingepak. Die is uitgehaal en fotos is geneem. Ek weet tot vandag toe nie wat ons gedrink het nie. Maar dit was wit, met coke, in ‘n plastiekglas wat die tannie by die Bushpub goedgunstiglik aan ons geskenk het.

Een van die stoppe, het plaasgevind op 10.7km en nie 10km nie. BTW, Derick ek wag nog vir die selfie-stick fotos!  Oupa E het ‘n oproep gemaak na Callie toe maar gelukkig was die sein swak want al wat ek van die gesprek kon optel was anderkant N1, verdwaal en Merweville. Ons het so knak na donker die plaas gehaal en almal was al in ligter luim. Daar het ‘n aand-ete soos min gewag en soos gewoonlik het oom Johan en tannie Hestie nie teleurgestel nie. Soos Carel tereg opgemerk het. Bietjie Bike-ry met BAIE eet.

Ek het vroeg gaan inkruip maar hoor die bittereinders het na 12 eers koers gekies katel toe. Na verneem word is daar manne wat al singende hulle stort-stemme geoefen het in die gastehuis en een van die manne het tot ons ry sy beursie gesoek. Die is gekry op die klavier in die gastehuis.

Deur die loop van die nag het ek wakker geword van ‘n klank wat soos musiek in my ore is. Reën op die sinkdak. Ek het gesien die manne het nie eintlik die buiteligte afgesit nie en het vir my ‘n beker koffie gaan maak en lekker op die stoep gesit en koffie drink terwyl die reën op die sinkdak musiek maak. Ek het deur die loop van die oggend nog so 3 bekers koffie gedrink en was heeltemal in my eie wêreld vasgevang. Miskien omdat die wêreld en spesifiek Abrahamskraal my na aan die hart lê was hierdie reën vir my so lekker.

Ek het ‘n vroeë stort gaan vat in die kothuis en sommer daar en dan besluit dat ek en Chantelle bietjie vir Fiela moet plaas toe bring.

Almal het so drupsgewys ontwaak en die geure uit die kombuis was genoeg om enige mens uit die bed te laat opstaan.

Collen se skoeter het repairs nodig gehad maar ons het sommer goukyk hom terug op die pad gehad. Na ‘n STEWIGE ontbyt het ons maar traag begin pak.

Daar is drivers briefing gehou en dankie gesê vir ons gashere en die wonderlike Karoo-gasvryheid Hiervandaan is ons terug in Prins Albert se rigting en toe weer op die Prins Albert Weg pad die R407 tot ons links gedraai het op die bekende Hekke-pad.  Nadat ons so vlugtig re-group het het ons die grondpad gevat rigting Floriskraal dam. Andreas het om ‘n wille S-draai ‘n slightly advanced side-stand incident(as ek Callie mag quote)  gehad. Bietjie gekneusde ego gehad en ligte pyn in die sy maar verder ok. Die pad het toe bietjie meer sanderig geraak wat die manne se skills so bietjie begin toets het. Ek weet van bitter min mense wat hou van sandry. Daar het nog een of 2 sidestand incidents gebeur maar als gelukkig op lae spoed en die manne en dame se ego het meer pakgevat as die skoeters.

Prok se kopdop het skroewe lang die pad verloor. Hulle is vervang met hout aerials sodat hy die ouer lede van die toergroep op sy blueteeth kon opvang en 3mp’s luister.

Vossie het erens lang die pad oorgeslaan 62000km toe en ek het maar vir veiligheid ‘n watertjie gevat om dit te vier.

Meeste van die mense was sprakeloos oor  hoe mooi Floriskraal Dam is. Ek het so vining paar staaltjies vertel van die vloed en wat als gebeur het.


Hele paar fotos later is ons oppad Laingsburg toe. Die aanvanklike plan was om hier vol te maak end an rigting Ladismith te ry en vandaar grondpad te vat oor Ouberg pas na Montagu. Die tyd was nie heeltemal aan ons kan nie en ons het besluit om eerder die Witteberge pad te ry. Die pad is mooi en vloei soos teer. Hy het sulke dowwe natkolle gehad en jy kon voel hoe die fiets se gat los raak elke keer as jy so patch slaan. Die kolle het my paar keer onverwags gevang want dit lyk of die pad droog is en volgende oomblik snake jou agterwiel.

Die hele pad was die berge met ‘n ligte wit poeier gestrooi. Prentjie mooi maar ysig. Die gemiddelde temperatuur het so tussen 4 en 6 grade gehandhaaf. Toe ek weer opkyk sien ek my bakkie staan afgetrek teen die pad. een of 2 fietse staan dwars in die pad geparkeer en daar lê ‘n fiets in die bosse regs van die pad.

Rob het geval. Hy het baie sagte modder teen die kant van die die pad gevang, fiets het begin snake en toe slaan hy ‘n hengse spoelgat en slaan gat oor kom. Gelukkig was hy ok. Sy knie het pak gevat en die skoeter ook maar hy was in goeie spirit. Ek het gestop en seker gemaak Rob is OK.

Toe begin ons sy fiets laai wat maar met rukke en stote gebeur het maar hy was op. Hugh het vooruit gery om Carel te verwittig terwyl ek, Andreas en my pa die fiets gelaai het. Ons het Carel oppad gekry en toe by die teerpad net vinnig gesels. Vandaar het ons oor gedraai Touwsrivier toe aangesien die res van die groep daar gewag het.

Op Touwsrivier het ons gou koffie deurgewerk. Ons het verslag gekry dat dit reën in Stellenbosch en toe word daar naarstigtelik reenjasse aangetrek.

Wiele gepomp en nodige vloeistowwe volgemaak. Volgende stop Bergsig Motors net buite Worcester.

Die groep het redelik oor gedraai en ek het nog eers gestop vir ‘n mooi foto voordat ek Hexrivier pas sak.

Ek het van agter begin inhaal en het agter Stefania gery. Net verby Sandhills se afdraai sien ek die 650 se flikker gaan aan. Dan weer af, entjie verder weer aan en weer af. By Kanetvlei se indraai sien ek hy gaan aan en sy verminder spoed.

Haar kontaklens het uitgeval. Gelukkig het sy ‘n spaar lens in haar sak gehand. 3 Minute later was ons weer op koers Worcester toe.

Daar aangekom het ek besluit om my fiets weer op die trailer te sit om my bakkie terug te bestuur. Dit het meegebring dat ons Rob se fiets moes skuif. En daar breek die tailgate se kabel toe. 10min is die kabeltjie gelas en ons reg om die skoeters te laai. Intussen het die verkeerspolisie ook hulle teenwoordigheid kom wys en ons almal se moermeters in die rooi gedruk.

Met die fietse gelaai het ons almal gegroet. Ek kon sien almal is moeg maar dat dit ‘n lekker naweek was is nie altemit nie. Ek het my ouers by die huis afgesit en ek en Rob het die stuk terug Kaap toe ingesit. Hy het sommer sy seun oppad laat weet en ons het sy fiets sommer by Carel se huis oorgelaai en myne weer na die middel van die sleepwa geskuif.

By die huis gekom het ek die fiets net so op die sleepwa in die garage gestoot, bakkie afgepak en als gesluit. Dit was knap na 9, ek was goed gatlam maar baie dankbaar dat die Vader ons bewaar het op nog ‘n avontuur in ons mooi Weskaap en dat almal dit veilig en relatief in een stuk tot by die huis gemaak het.

Soos oom Oubaas sê: Tot wederom!!

Matewis uit

Events

« October 2017 »
MonTueWedThuFriSatSun
1
2345678
9101112131415
16171819202122
23242526272829
3031

Liability

Motorsport is inherently dangerous.  As per paragraph 9 of the club constitution, the club shall not be held liable for any loss, injury or death of any member or guest, howsoever arising.

The BMW Motorrad Club Cape cannot be held responsible or liable in any way for any actions or decisions you make as a result of the information posted on this site.  Although this site is enabled and used by the BMW Motorrad Club Cape, posts are made by members, non-members, advertisers and guests and none of it is vetted by the club before posting.  This is the internet and Africa - you are responsible for yourself.

User login

CAPTCHA
Just to make sure you're human!