Gamkapoort Deurstoot

Matewis's picture

Points: 4

Dis al ‘n tydjie sedert ek geskryf het maar in die tussen-tyd het ek nie stilgesit nie. Het einde laasjaar ‘n nuwe pos aanvaar en het omtrent rondgehardloop die laaste tyd.

Kon darem vir my ‘n nuwe topbox gaan optel in PE voor die trippie Gamkaspoortdam toe.

Die trip het ek eintlik al lankal beplan en sou ‘n solo trip gewees het. Dis gewoonlik my dink tyd, beplanningstyd en afskakeltyd. Ek is bitter suinig met hierdie tyd en indien ek ‘n persoon of 2 inlaat en saamnooi is dit mense wat die denker gedeelte van my verstaan.

Robin het onlangs sy pa aan die dood afgestaan, en met al die reëlings en dinge wat hy moes deurmaak het ek dit goedgedink om hom saam te nooi. Ons kom al ‘n lang pad saam en kan mekaar net deur bloot vir mekaar te kyk, opsom.

In die voorafgaande week is daar gesorg dat die stofskoeters in tiptop kondisie is. Die Geelkameel se  vurkseëls is vervang, nuwe sitplek opgesit en Witvos het sy nuwe topbox gekry.

Die eindpunt van ons reis was vir Robin onbekend en tot ‘n mate ook vir my. Ek het geweet waar ons gaan opeindig maar nie hoe die pad lyk tot daar nie. In ‘n vorige groep se bike-video het ek die naam Gamkapoort Dam gesien en begin wonder. Navorsing het gevolg en siedaar. My solo-trip, or not so solo trip was born.

Gewoonlik is ‘n voorvereiste van so solo-trip dat daar geen selfoon-opvangs moet wees nie. Dan skakel mens behoorlik af.

Vrydag het ek deurgery na Robin in die Paarl. Die reën het gedreig oor die berg en op nommer 99 het ons maar die reënjasse aangetrek. Ook maar goed. Vinnig Cream Soda in die tenke gegooi en pad gevat rigting Franschhoek.

Vir iemand wat Franschhoek pas goed ken en hom al menige maal gery het, was Vrydag aand op die pas ‘n uitdaging. Met letterlik 4m sig en reën het ons die pas aangevat. Ek kan tot ‘n mate verstaan hoekom mense met engtevrees in digte mis verbouereerd kan raak. Ons het maar flikkers aangesit en op die witlyn konsentreer. 2de rat, 30km/h. Aan Villiersdorp se kant van die pas het die mis begin lig en die reën opgehou. Pad was al semi-droog en ons kon so bietjie oordraai. Ons eerste nag se slaap was anderkant Riviersonderend.

Ons albei was relatief moeg na ‘n rowwe week en ons het na ‘n vleisie en broodjie nog tot ounag diep stories gepraat. Kanarie het 'n paar stories van sy pa vir my vertel. Saterdag was ons vroeg op. Het rustig gepak en bietjie grondpaaie gery to in Bredasdorp en vandaar teerpad Swellendam toe. Na die eerste reëns loop die trekkers oop en toe om die grond geploeg te kry vir die nuwe oes. Dis werklik ‘n gesig om te aanskou.

So 40km voor Swellendam sit ek hoeka so en kyk vir ‘n trekker met sy massiewe ploeg en Witvos is op ‘n gallop net so knap anderkant die toegelate spoedgrens. Met die terugkyk voor my sien ek ‘n springbokram regs van my fiets se voorwiel uitdop. Ek het ‘n paar woorde gelos wat nie hier herhaal kan word nie en my letterlik koudgeskrik. Die volgende het alles in ‘n kwessie van sekondes gebeur. Die bok het die draad met ‘n moerse spoed getref en is toe sommer terug op die pad en vat padlangs koers Bredasdorp toe. Ek het in my spieël gekyk en gesien Kanarie het omgedraai en kon sommer hoor die Geelkameel draf nou flink in die teenoorgestelde rigting. Ek het ook maar omgesit en moes sommer oordraai om hom in te haal. Met die naderkom sien ek hy jaag die springbok. Hy het die springbok so van die pad af gekry en nie lank nie toe is bokkie moeg en slaan gat-oor-kop in die lang-gras neer. Ons het omgedraai en side-stand uitgeskop om die bok te vang en weer oor die draad te sit. Met die opkyk sien ek Kanarie se Geelkameel in slow-motion omval. Hy het die side-stand nie heeltemal uitgeskop nie! Ek het afgespring en gou gehelp om sy fiets op te tel. Met die fiets regop het die springbok ook regop gekom en rustig padlangs weggedraf.

Ek en Kanarie het hom net agterna gekyk. Ons het so rukkie gevat om net te kalmeer en tot verhaal te kom en het toe die laaste stukkie gery tot in Swellendam. By Checkers het ons gou aangery vir ‘n groen ambulans en ek het sommer gekyk hoe lyk die Padkos stand en of als in orde was. Kanarie het gesê Buffeljags is die plek om te stop vir roosterkoek. Nou kyk, ek ken roosterkoek. Maar as jy jouself wil treat, is ‘n stop by Oude Post ‘n moet.

‘n Plek wat 1400 roosterkoeke op n goeie dag verkoop, moet weet wat hulle doen. Kanarie het ‘n mince roosterkoek bestel en ek het ‘n bacon-en-kaas ene deurgewerk. Alla perskes was dit lekker!!! Afgespoel met ‘n cappuccino het ons sommer gou die honger pyne gestil.

Van hier het ons na Suurbraak gery en toe die mooie Tradouw pas begin klim. Die pas was lekker stil en ek en Kanarie het halfpad teen die pas op gestop en hy het my vertel hoe hy en sy pa destyds met ‘n vraggie voer oor die pas gery het toe daar droogte in die Tankwa was. Na ons weer weggetrek het, het hierdie mededeling my oë vol trane laat skiet. Dit het my sommer laat dink aan my eie pa, dinge wat ons al gedeel het, paaie wat ons al gery het. Gesprekke wat ons in die jagveld gehad het. Hierdie was after all ‘n trip waar ons afskeid neem en ook bietjie ons koppe skoonkry.

Min sou ek weet dat die roete wat ek gekies het soveel memories vir my groot vriend sou terugbring. Barrydale is ons deur sonder om te stop aangesien Diesel & Crème toe is vir verbeteringe. Ook maar goed wat toe trek ons die krane oop na Ronnie’s Sex Shop. Hier het ons gestop vir ‘n koeligheidjie vir die keel. Ook net betyds want nie lank na dit nie stop daar ‘n toerbus vol duitse toeriste. Met ons dors geles, het Ladismith geroep.

Ons het sommer by die eerste en naaste vulstasie vir ons skoeters ook bietjie Cream Soda gegee en sommer vir die petroljoggie gevra waar ons aartappels ens kan koop. Ladismith is eintlik ‘n snaakse dorpie. Mens ry eintlik die dorp so semi mis. Ons het “gou” by die Spar ingehardloop. Ek dink die hele proses van aartappels, uie, mushrooms, botter, foelie, coke en ‘n knoffelbroodjie koop het seker 45min geneem. Ons kan ‘n hele paar vrouens ‘n go gee. In ons verdediging moet ek noem dat ek 2 keer terug is winkel toe vir iets wat ek vergeet het en Kanarie is ook twee keer in. Toe kom die taak om als in en op ons fietse vasgemaak te kry.  Ons kon darem die 2 skaapribbes skuif en het plek gemaak vir al die ander goed. Ons het gery in die rigting van Zoar en vandaar Seweweekspoort se grondpad gevat.

Voor ons het ‘n redelike groot vragmotor gery wat lekker stof opgeskop het en ons het besluit om eers in die poort te stop sodat die vragmotor bietjie vooruit kan gaan. Kanarie het lekker yskoue energiedrankies uitgepluk en ons het sommer net so bietjie staan en gesels en die natuurskoon ingedrink.

Kanarie het my meegedeel dat hy die eerste keer hierdie pas saam met sy pa gery het. Hulle het volstruise van die plaas af Oudtshoorn toe gevat. Onwetend het die roete wat ek gekies het, herinneringe teruggebring van eerstes wat Robin saam met sy pa ervaar het. Onwillekeurig het ek gedink aan eerstes wat ek saam met my pa ervaar het. En sommer ‘n lysie begin maak van dinge wat ek nog saam met hom wil doen. Ek het geweet dit gaan ‘n naweek van diep gesprekke wees. Ek weet nou waar my groot vriend eendag sy kop vir die laaste keer sal wil neerlê.

Dis weird hoe die lewe snaakse draaie loop. 10 jaar terug was ek jonk, relatief onverskrokke en lived life on the edge. Letterlik.  Ek het vinnige karre gelove(ek doen nog steeds) en ‘n bergpas was ‘n plek om my drivingskills bietjie te “hone” en my kar tot op sy limiet te vat. Vandag doen ek dit nogsteeds maar teen ‘n baie mindere mate. Life has changed, verantwoordelikhede is meer. Daar is meer mense wat op my staatmaak en ek moet dink aan ander en nie net aan myself nie. Ek dink soos mens se ouderdom klim, besef jy wat werklik belangrik is in die lewe. Familie, vriende, mense in jou kring waarop jy kan staatmaak. Wat jou belange bo hul eie sal plaas. Die spreekwoord sê nie verniet: Aan jou vriende sal jy geken word. Dis in vandag te tyd, nogsteeds waar. Daar is onlangs vir my die volgende gesê: "You do not write in colour anymore." Dit het my nogal laat dink. Maar meer oor dit in die weke wat kom.

Terug na die hede. Net deur die mooie Seweweekspoort draai ons regs in die rigting van Gamkapoort dam. Die eerste gedeelte ry mens verby mooi uie-landerye. Dan dop die hek na Bosch Luys Kloof voor jou uit. Deur die oopskuif hek en deur ‘n driffie raak die pad sommer lekker en daar is ‘n paar hobbeltjies wat mens met spoed kan vat en so bietjie airborne raak.

Dan, sonder waarskuwing begin jy die pas sak.

Bosluiskloof Pas of Bosch Luys Kloof Pass

So bietjie geskiedenis oor die pas:

This historic pass dates back to 1862 and was completed by Thomas Bain's brother in law - Adam de Smidt. The road is named after the many fossilised ticks found in the rocks when the road was built. This used to be the main road between Laingsburg and Prince Albert up till the late 1960's when the Dept. of Water Affairs built the Gamkakloof Dam, which had a number of consequences, including making this road obsolete. Firstly it made the road a dead end as there was no way around the new dam and secondly it spelt the end of the farming community in the Gamkakloof, as the new road bulldozed eastwards through the Gamkakloof gave this community access to Oudtshoorn and Calitzdorp. They left the kloof in a steady trickle until there was no-one left. That is one of the negative sides of progress.

Een van die groot trekpleisters van motorfiets ry, is om nuwe afgeleë plekke te gaan verken. Daar sit nie verniet ‘n Wanderlust tattoo op my arm nie. Ek love dit om te verken en nuwe plekke te sien.

Ek was al baie plekke in my lewe. Die uitsig van bo op Boschluyskloof pas, is onder my top 4 van seker die mooiste plekke. Die ander 3: Die uitsig vanaf Leeukop, Ouberg Pas in die Tankwa en Van Rhynspas wat uitkyk oor die Knersvlakte.

Hierdie is ook een van daai plekke wat jy nie eintlik oor wil skryf nie. Nie omdat dit nie ‘n paar bladsye werd is nie, maar omdat jy dit half vir jouself wil hou. Die ongereptheid van hierdie pas en deel van die land is sy aantrekkingskrag. Mense het in die verlede vreeslik aangegaan oor die pas af in Die Hel in. Daai is ‘n vulletjie. Gaan ry Boschluyskloof pas. Die vistas van bo, is for lack of a better word: ASEMROWEND.

Vir die volgende klompie kilometer was Witvos amper konstant in 1ste rat. Verspoelings oor die pad het my die afgrond van nader laat bekyk vir ‘n oomblik maar ek het darem bo gebly. Hierdie is nou een van die paaie wat ek nie in woorde kan omsit nie. Vir my, is niks wat ek hier kan tik, naby aan hoe mooi dit is nie. As jy gaan dink hoe het Adam de Smidt in 1862 hierdie stukkie pas gebou, moet ek my helmet tip en sê well done!  Ek sou gelove het om ‘n drone in die lug te sit en agter my aan te laat vlieg het terwyl ons die pas gesak het. Ek sal maar dat die video van die uittog ‘n bietjie van die mooi wys.

As jy nou bietjie luuks wil slaap dan gaan boek jy vir jouself hier in:

https://boschluyskloof.co.za/reserve/home?/index.html

Ons het die budget akkommodasie verkies en dit was verseker die beste besluit. Verby Bosch Luys Kloof se huisies is daar verskeie afdraaie vir 4x4 roetes. Ek moet ook opmerk dat ons met die intog in die kloof net 1 voertuig gekry het. ONGEREPTE SKOONHEID. Deur die reservaat sien mens die mooiste koedoes, springbokke(gelukkig nie op 140 vlak voor jou nie) en iets wat ek baie lanklaas gesien het, vaalribbokke.

Die laaste stukkie na die akkommodasie begin die dam so bietjie bietjie van homself wys. Ons het bo by Fox gestop wat die waterfiskaal is en uit my weetgierige natuur het die vrae op die arme man gereën oor die dam.

Gamkapoort Dam
Official name Gamkapoort Dam
Location Western CapeSouth Africa
Coordinates 33°18′1″S 21°38′36″ECoordinates33°18′1″S 21°38′36″E
Opening date 1969
Operator(s) Department of Water Affairs and Forestry
Dam and spillways
Type of dam gravity
Impounds Gamka River
Height 39 m
Length 213 m
Reservoir
 
Creates Gamkapoort Dam Reservoir
Total capacity 54 000 m³
Catchment area 17 055 km2
Surface area 620 ha

Links loop die dam tot 10km op en aan die regterkant 15km van die wal af. DIS WYD!! Die dam het tans 30% slik so slegs 70% van sy oorspronklike kapasiteit is nog beskikbaar. Ongelukkig met die knellende droogte is die dam tans leeg. Op die stadium het Fox my so gekyk en gesê: “Your next question would probably be how long does it take to fill up?” And I answered: “yes, that was my next question.” His answer took me by surprise. 36 hours. 36 HOURS!!!  Fox sê die dam het van leeg tot bo-oor die wal gegaan in 36 uur. Hierdie is slegs die 3de keer wat die dam leeg is vandat hy daar bly vanaf 1992. Hoogste temperatuur wat al daar gemeet is? 56 grade Celsius. En dit het in die dag voor en die dag na dit nooit onder 40 grade gesak nie. Gedurende die dag en die nag. Fox het ons die verblyf gaan wys, en al is dit baie basies, het mens niks meer nodig nie. Warm water is afkomstig van ‘n donkie wat met hou gestook word.

Fox het verduidelik dat as ons die koppie agter die huisies klim sal ons selfoon sein hê. Ons is albei die koppie uit met ‘n vars rum en coke in die hand. Ons het op die koppie gou gebel en laat weet ons is veilig en toe, met die wêreld aan ons voete en ‘n uitsig wat ‘n stadsjapie net van kan droom, ‘n glasie geklink op wyle Essie Walters.

Ek en Kanarie, was geestelik in dieselfde space.

Daar is ‘n spreekwoord wat sê:

Ons het paar fotos geneem ons laaste slukkie op die dorre aarde uitgegooi en afgestap om ‘n vuurtjie aan die gang te kry. Met die vuur wat knetter het ons die kardoesies gou gemaak en gekyk hoe die son die berge verlaat en die lug in alle kleure verf.

Die vuurtjie het geknetter en ek en Kanarie? Ons was net. Rustig en gelukkig. Albei presies waar ons wou wees. Content.  Ek het vir ons elkeen ‘n prime-rib ingepak wat al 3 dae in speserye lê en smeek om gebraai te word. Robin het die wors gebraai wat hy saamgebring het en ons het solank weggele aan die wors. Hy  het die een stuk rib opgesit saam met die kardoesies. Ons het hom so entweg geëet en toe die ander rib ook gebraai. Ons albei was dit eens dat rib nommer  2 meer sout gaan kry! Ons het ons so trommeldik aan die kardoesies geëet dat ons seker elkeen een stukkie rib van die 2de rib ingekry het. Ons het ‘n laaste knertsie buite gedrink en besluit dis tyd vir oege rus. Ek moet bieg, ek het lanklaas so lekker geslaap. Behalwe vir ‘n paar muskiete wat my slaap so effe versteur het was ek lights out.

Ons het die oggend geroer voordat die son sy verskyning gemaak het. Min dinge mooier as om die son te sien opkom in die Karoo. Ek het vir ons Cappuccino sachets ingepak, maar die brakwater en die Cappuccino akkordeer nie so lekker met mekaar nie. Ons het gou water gekook en die skottelgoed gewas, beddens opgemaak en toe rustig ons fietse gepak. In die huisie langsaan was ‘n ouerige vrou, sy het deur die loop van die aand fotos geneem van die sterre en ook van die sonsopkoms. Ek het haar gegroet waar sy met ‘n rugsak oppad was in die rigting van die rivier se inloop. Na ‘n vinnige geselsie het ek agtergekom dat sy die vorige dag die linkerkantste  inloop tot bo geloop het. En vandag vat sy die regterkant. RESPECT!

Kanarie het ‘n boere-was gevat(net die brak plekke gewas soos hy sê) met koue water. Ek was minder braaf, water gekook en met louwarm water die brak plekke gewas. Met die fietse gepak het ons vir Fox gaan groet en die pad terug beskawing toe aangedurf.

Die vaalribbokke, koedoes en springbokke het die rit lekker gemaak. Met ‘n groter fiets het ek maar bietjie rustiger gery en sagkuns oor die klippe gevorder. Kanarie aan die ander kant het ligvoets gedans met die Geelkameel deur die draaie en oor die klippe. Ons het gestop vir ‘n foto met die ossewa en vandaar het hy voorgedraf tot by Boschluyskloof se hek. Ek het so heuweltjie of 2 gespring met Witvos en toe myself bedink en rustiger gery.

By die hek het ons gestop vir ‘n foto en vandaar het ons oorgedraai tot by Floriskraal dam se afdraai.

 

 

Vir iemand wat weet van die Laingsburg vloed, en self in hom was. Is die Floriskraal dam nogal iets besonders. Ja, ek is 28 November 1980 gebore, Laingsburg het weggespoel 25 Januarie 1981. En ek was daar. Die gebeurtenisse rondom dit is hartroerend. Soveel so dat my pa onlangs een van die mense wat hy daardie dag van ‘n watergraf gered het, onlangs opgespoor het. Die man bly skaars 5km van waar ek tans woon en ek het die voorreg gehad om hom te ontmoet. Ja, my pa, is my real life hero.

Ek was as kind laas by die dam en dis nog net soos ek dit onthou. Ek en Kanarie het bietjie fotos geneem en tot bo op die wal gestap en die dam is erg leeg. Mens kan die visse onder in die water sien swem. Die roep van ‘n visarend het die prentjie mooi afgerond. Ons het van hier gery vir Laingsburg sodat ons die stofskoeters weer bietjie cream soda kon ingee. By die petrolpomp aangekom kom daar ‘n man op ons afgestap. Marius. ‘n pel van Robin. Hulle het bietjie gaan jag by Loxton as ek reg onthou ek klink my hulle het lood gegooi. Met die tenke vol het ons die Witteberge pad gevat. Nog ‘n pad met spesiale betekenis aangesien ek en Kanarie die grondpad vir die eerste keer saam gery het. Dis ook die venue vir sy eerste val. Die pad het soos teerpad gelyk en ek moes maar aanstoot om by die Geelkameel te hou.

Terug op die teer het ek gou die lyne geslaan Worcester toe. My ma wou weet of ons inval vir ete. Hoe kan mens dan nou nee se vir jou ma se kos. Ons het die afstand Worcester toe sommer gou kafgedraf en soos gewoonlik het ons weggelê aan lekker gekookte kos. Ons het maar ons lywe aasvoel gehou en na ete Du Toitskloof oor gery tot by Kanarie se huis. Ek het gou die nodige bagasie afgelaai en het rustig die laaste stukkie huis toe gery.

All in all het ons so 900km gery. Die naweek, en my onderonsie met die springbok, het my weereens laat besef dat die lewe kort is. Niemand weet wanneer sy strepie getrek is nie. En ons moet elke dag flatout lewe.

Ter nagedagtenis aan oom Essie.

Matewis uit

Geoff Russell's picture
Offline
Joined: 2007/09/25

Nice read, thank you.

Committee: Ride Captain

Hans Ambulans's picture
Offline
Joined: 2013/10/01

Ek het hierdie nou geniet,  Baie dankie.

 

Comment viewing options

Select your preferred way to display the comments and click "Save settings" to activate your changes.

Events

« June 2017 »
MonTueWedThuFriSatSun
1234
567891011
12131415161718
19202122232425
2627282930

Liability

Motorsport is inherently dangerous.  As per paragraph 9 of the club constitution, the club shall not be held liable for any loss, injury or death of any member or guest, howsoever arising.

The BMW Motorrad Club Cape cannot be held responsible or liable in any way for any actions or decisions you make as a result of the information posted on this site.  Although this site is enabled and used by the BMW Motorrad Club Cape, posts are made by members, non-members, advertisers and guests and none of it is vetted by the club before posting.  This is the internet and Africa - you are responsible for yourself.

User login

CAPTCHA
Just to make sure you're human!